OBARO glo in meer as net suksesvolle oeste – ons glo in die groei van ons jeug en die bou van ’n volhoubare toekoms vir landbou.
In vennootskap met Akademia, ’n onafhanklike Afrikaanse hoëronderwysinstelling, het ons die “Groei die toekoms saam met OBARO”-befondsingsprojek geloods. Hierdie saakverwante inisiatief gee aan OBARO-kliënte en -vennote die geleentheid om by te dra tot die Akademia-landbouskenkingsfonds, wat die ontwikkeling van die instelling se landbouprogramaanbod ondersteun en ’n studietuiste vir die toekomsgerigte opleiding van die volgende generasie landboukenners en boere sal help vestig.
Elke skenking, groot of klein, maak ’n tasbare verskil – van infrastruktuurontwikkeling tot toekomstige studiebeurse. Jou bydrae help bou aan ’n veerkragtige landboubedryf én ‘n blink toekoms vir jong studente vanuit die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe.
Transaksies kweek die toekoms: Met elke aankoop by een van OBARO se handelstakke of ons aanlyn winkel word die opsie aan jou gebied om R20, R50 of R100 by jou transaksie te voeg as skenking tot die Akademia-landbouskenkingsfonds.
Boer slim en bou die toekoms: Langtermynbelegging spesifiek op kommersiële boere gefokus, waar die opsie vir maandelikse of jaarlikse bydraes gebied word, of skenkings gekoppel aan oeslewering.
Toekomstige impak: Jou donasie vir of belegging in die Akademia-landbouskenkingsfonds word gebruik vir die vestiging van Akademia se landbou-uitbreiding, die ontwikkeling van nuwe programme én vir toekomstige studenteondersteuningsinisiatiewe (waaronder beurse en lenings).
*Vir elke transaksie of belegging gemaak kan ’n artikel 18A-sertifikaat uitgereik word.
As trotse Suid-Afrikaanse landboumaatskappy is OBARO diep verbind tot die groei van die landbouwaardeketting en die ontwikkeling van kundigheid in die sektor. Akademia, as onafhanklike hoëronderwysinstelling, deel hierdie visie en is verbind tot die lewering van wêreldklas gehalteonderrig in Afrikaans, ten einde student op ’n vrye toekoms voor te berei.
Plant vandag, oes môre ’n volhoubare toekoms!
Besoek ook vandag nog die Toekomsbouer-webblad.
Elke rand wat jy gee, groei die toekoms van landbou én jong Afrikaanse studente.