Spanne sê mekaar eersdaags die stryd aan in die derde OBARO Inter Unie

SPANNE Sê MEKAAR EERSDAAGS DIE STRYD AAN!

Die komende naweek, 28 Februarie – 2 Maart 2025, vind die derde OBARO InterUnie by Sediba Kwele buite Brits plaas – ‘n stryd met ‘n diepliggende betekenis en groot waarde. 

Die doel agter hierdie kompetisie is om ’n platform vir jongboere te skep waarbinne hulle mekaar kan leer ken, vriendskapsbande kan smee en só die omgewing waarbinne hulle moet boer kan vorm en landbou kan bevorder.

Nic Bronkhorst, Hoof Uitvoerende Beampte van OBARO voel so oor hierdie geleentheid: 

“Guns val die wat dapper is toe. My voorvaders het rondom 1700 voet aan wal gesit in die Kaap, dapper genoeg om die see in te vaar opsoek na ‘n beter toekoms vir hulle nageslag. Sewe generasies later, bevind ek myself steeds aan die suidpunt van Afrika. Vir sewe generasies het ‘n seun manmoedig, generasie vir generasie, by sy pa die verantwoordelikheid oorgeneem, opsoek na ‘n beter toekoms.

Die OBARO InterUnie is ‘n broeikas vir die volgende generasie, manmoedig, opsoek na ‘n beter toekoms. ‘n Geleentheid waar boere met dieselfde en tog uiteenlopende uitdagings bande kan smee, ‘n kameraderie kan bou wat eensgesindheid kweek. ‘n Eensgesindheid wat landbou in Suid-Afrika vir die volgende generasie en die een daarop na ‘n beter toekoms kan neem.

 Mag die guns wat bewerkstellig is deur die wat voor ons was, ons toeval, en mag ons nageslagte dieselfde guns ervaar.

“Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk!” 1 Kor. 16:13″    

Die droom is nou `n werklikheid en met die OBARO InterUnie 2025 om die draai, sien ons daarna uit om saam met 220 jong boere en meer as 38 borge ‘n groot sukses van die naweek te maak.

Die prysgeld op die spel vanjaar is:

  • 1e Plek : R100 000
  • 2e Plek: R50 000
  • 3e Plek: R25 000
  • Geeswenners: R25 000

Die spanne gaan mekaar se vernuf toets tydens 10 verskillende aktiwiteite. Die span wat wen word met die titel gekroon van Baas van die plaas 2025.

OBARO sien daarna uit om elke jong boer en leweransier te verwelkom by die derde OBARO Inter Unie.

Inter Unie 2025