Derde OBARO Inter Unie Om Die Draai

DERDE OBARO INTER UNIE OM DIE DRAAI!

Meer gereelde skakeling tussen jong boere uit verskillende streke is noodsaaklik vir die vooruitgang van landbou in die land. Dit is hier waar vriendskappe gesmee word wat die grondslag skep vir deel van inligting en gesamentlike probleemoplossing vir die uitdagings wat aan landbou gestel word. 

OBARO wil met die Inter Unie wat die komende naweek, 28 Februarie – 2 Maart 2025 by Sediba Kwele buite Brits plaasvind, die doelgerigte platform skep waar jong boere meer gereeld met mekaar kan skakel. Vriendskappe wat hier gesmee word, dien as ’n samebindende faktor binne die Boerevereniging, in die omgewing, maar ook op ’n breër vlak in die landbou.  

OBARO, het ’n doelgerigte fokus om ’n platform vir jongboere te skep en daarmee die omgewing te bevorder waar vreemdelinge vriende word. Die OBARO Inter Unie bied ’n unieke geleentheid vir die nuwe generasie boere om bymekaar te kom, mekaar te ondersteun, vriendskappe te smee en saam, landbou te bevorder.  

OBARO bied ’n tuiste vir jong boere, of dit om die besigheidstafel, op die landerye of op die sportveld is.   

“Ons sien daarna uit om die meer as 200 boere vanjaar by die Inter Unie te verwelkom,”  se Michelle Kuyler, Groep Bemarkingskommunikasiebestuurder van OBARO. 

Die prysgeld op die spel vanjaar is: 

  • 1e Plek : R100 000 
  • 2e Plek: R50 000 
  • 3e Plek: R25 000 
  • Geeswenners: R25 000 

 

In 2023 is die eerste Inter Unie aangebied met 16 Jongboerspanne wat deelgeneem het.  In 2024 het 20 Jongboerspanne met mekaar meegeding en vanjaar verwag ons  22 Jongboerspanne wat mekaar die stryd gaan aansê. Die spanne gaan mekaar se vernuf toets tydens 10 verskillende aktiwiteite. Die span wat wen word met die titel gekroon van Baas van die plaas 2025. 

Volgens Kuyler is OBARO bevoorreg om te kan sê dat die Inter Unie vanjaar deur 38 borge ondersteun word. “Hierdie ondersteuning van die geleentheid is integraal tot die sukses van die OBARO Inter Unie.”  

Die kompetisie vind plaas teen die agtergrond van ‘n feestelike atmosfeer met Hamilton Wessels wat as seremoniemeester vir die naweek gaan optree. Vrydagaand gaan Ricus Nel die deelnemers en toeskouers Vermaak. Voorwaar ‘n geleentheid om met familie en vriende te deel.  

OBARO sien daarna uit om elke jong boer en leweransier te verwelkom by die derde OBARO Inter Unie.

Inter Unie 2025
Inter Unie 2025