‘n Omset van sowat R1 miljoen en ‘n wins van R755 000 gedurende ‘n “stroperbraai-geleentheid”, stel lede van Dwaalboom se boerevereniging nou in staat om plaasaanvalle en vee- en wilddiefstal doeltreffender te beveg.
Hierdie bedrag is ‘n stewige toevoeging tot die vereniging se jaarlikse uitgawes van R250 000 om plaasveiligheid met behulp van kameras en ‘n beheerkamer te probeer bekamp. Die ekstra geld gaan aangewend word vir die beveiliging van die distrik se inwoners.
Johan Rootman, besigheidsbestuurder van OBARO se Dwaalboom-tak, vertel die distrik loop deur onder noodlottige plaasaanvalle asook knaende vee- en wilddiefstal, waaronder renosterstropery. Die plaaslike boerevereniging bestaan uit slegs ‘n handjievol boere van wie 75% ouer lede is. Dit maak patrollering in die gebied moeilik en gevaarlik.
“Ons is boonop ver van alles af en op onsself aangewese. Ons moes raap en skraap om kameras op ons groot kruisings te installeer, wat deel vorm van die groter Matlabas-gemeenskap. Dit is met ‘n beheerkamer verbind wat ‘n wakende ogie hou. Die bedryfskoste beloop sowat R250 000 per jaar en as gevolg van min boere wat aan die vereniging behoort, kan lede se lidmaatskapfooie dit nie dek nie,” sê Rootman.
Die boerevereniging het dus geen ander keuse gehad as om ekstra geld in te samel nie. Die besluit om ‘n knipmesbraai te hou, is gemaak om die vereniging ‘n finansiële hupstoot te gee.
Elkeen wat ‘n kaartjie gekoop het, het ook ‘n knipmes ontvang, waarmee hy of sy dan vir hom of haarself skaap- en varkleis van die spit kon afsny.
Die boerevereniging het egter gou besef die beskikbare spitbraai-apparate op die dorp sou nie in die aanvraag kan voldoen nie.
Willem Engelbrecht het toe voorgestel dat hulle die skape op ‘n stroper se graantafel moet spitbraai, soos die Roedtan-boerevereniging voorheen.
Hulle het by daardie boere gaan opsteek en begin soek na ‘n ou stroper om die tafel in ‘n roterende braai om te skakel. Een van die lede, Pieter van Deventer, het ‘n ou stroper en tafel geskenk wat toe aangepas is om saam met ‘n trekker en hidrouliese apparaat te werk.
Rootman, Engelbrecht en Pieter Pienaar, ook ‘n lid van die vereniging, het begin planne maak vir die onthaal in OBARO se skuur. Nog mense, elk met sy of haar eie taak, is vir die reëlingskomitee gewerf – en al die gemeenskapslede in die distrik het hul hulp aangebied om die plan suksesvol deur te voer.
Nege skape en twee varke is deur lede van die boerevereniging geskenk – en die vereniging het uitstallers en borge se hulp ingeroep. Die NG en Hervormde gemeentes het handjie bygesit met die reëlings. En toe breek die groot dag op 26 Julie aan.
“Ons het gehoop om sowat 200 mense te lok, maar die lekker Saterdag-kuier het toe 402 betalende volwassenes gelok,” sê Rootman.
Die kaartjies is teen R150 per persoon verkoop, wat ‘n knipmes van R110 ingesluit het. Kinders het R50 betaal.
Gaste moes dus net R40 opdok vir die smaaklike ete wat ook pap, sous, potbrood en slaaie ingesluit het.
Die flukse braaiers het die skape op die spit vasgemaak en die varke langsaan gebraai. Teen 14:00 het die braai afgeskop en alle gaste het 20:00 begin weglê aan die smulkos. Intussen het almal gesellig saam gekuier. Gaste kon keel natmaak by die VerDwaal Kraal-kroeg, kinders het heerlik gespeel en fikse mans en dames kon deelneem aan ‘n fietswedren op Dwaalboom se pragtige plase.
Gaste kon deelneem aan ‘n veiling en kon bie op onder meer houtskool, vuurmaakhout, sonneblomsaad, twee bakkievuurvegters, ‘n hitstjor, ‘n vierwiel-veldvoertuig, wildvoerkorrels, veelekke van verskillende maatskappye, veevoer, mampoer, bottels Jägermeister, chemikalieë vir bosbespuiting saam met ‘n hommeltuig, ‘n gratis vakansies in Mosambiek sowel as plaaslike oorde, ‘n bossiekapper, diesel, sement, jaggeleenthede, ‘n petrolpomp, bakkiebelynings, bakkietralies en selfs ‘n gholf-naweek by Highlands Gate op Dullstroom.
Die veiling het ‘n bedrag van R630 000 opgelewer – en die kaartjieverkope en uitstallings het die fonds met nog R125 000 aangevul.
Volgens Rootman het die omset sowat R1 miljoen en die wins amper R755 000 beloop, aangesien lede van die boerevereniging, die Dwaalboom-gemeenskap, asook personeel van OBARO hul dienste gratis aangebied het om die uitgawes tot ‘n minimum te beperk.
Danksy die ekstra fondse, het die boerevereniging ‘n lys van ander noodsaaklikhede opgestel wat ook gebruik sal word om die gemeenskap se veiligheid te verbeter, waaronder tweerigtingradio’s en vuurvegters in sommige gebiede. ‘n Finale begroting word volgende week saamgestel.
“Ons het nie beoog om die boerevereniging te verryk nie, maar gaan al die geld bestee vir die bevordering van Dwaalboom se veiligheid,” sê Rootman. “Die knipmesdag het boonop die gemeenskap nader aan mekaar gebring en almal ‘n dosis positiwiteit gegee.”
En volgende jaar maak hulle weer so. Op Saterdag 25 Julie gaan die vure weer knetter en die gaste hul lippe aflek vir nog ‘n heerlike dag – als vir ‘n goeie doel.