Martin Greyling is deur die raad van OBARO Beherend gekoöpteer as direkteur van OBARO se nuwe jongboer wyk.
Landbou en natuurlik boere, lê OBARO na aan die hart en is daar nie `n beter keuse as Greyling om die jongboer wyk te lei nie.
“Ek is ontsettend passievol oor landbou en alle vertakkinge daarvan. Die optimis in my sien `n goeie geleentheid in elke situasie raak, en ek is opgewonde om saam OBARO die jongboer wyk te groei en met innoverende denke die voortbestaan van landbou te verseker en voetspore te los vir die volgende generasie jongboere.”
Met meer as ‘n dekade se ondervinding is Greyling tans deel van ‘n familieboerdery, Pleroma Boerdery net buite Brits, waar hy saam sy skoonpa en swaer met groente in n gediversifiseerde boerdery boer.
Greyling is ook al vir die afgelope 7 jaar voorsitter van Brits Jong-Boerevereniging waar die organisasie streef daarna om landbouaktiwiteite en -belange op ‘n gekoördineerde manier te bedryf en `n bydrae te lewer tot die breër ekonomie van Suid Afrika.
OBARO is in lyn met die boer en wil ons boere in elke siklus van hul lewe bystaan en ondersteun hetsy boere jonk of oud is. Met die stigting van die jongboer wyk is dit prioriteit om `n platform te skep wat interaksie tussen die jongboere van regoor Suid-Afrika kweek, met die doel om vriendskappe te vorm.
“Ons wens Greyling net die beste toe in die nuwe rol en is saam opgewonde om te bou aan suksesse en oor wat die toekoms inhou vir landbou en ons jongboere.” sê OBARO in `n verklaring.