OBARO INTER UNIE: TWEE WEKE OM TE GAAN
Ons is twee weke weg van die volgende OBARO Inter Unie, en die spanning loop hoog. Dit is ‘n ongelooflike voorreg om hierdie opwindende geleentheid vir die tweede agtereenvolgende jaar aan te bied, en om te bou op die vorige jaar se sukses. Met 20 spanne wat gereed is om die arena te betree, beloof hierdie jaar se Inter Unie ‘n viering van landbouvaardighede en kameraadskap.
Dit is ‘n voorreg om so baie jong boere saam te sien kompeteer en hul ondersteuning vir mekaar te ervaar, waar daar vriendskappe gesmee word in die gees van mededinging. Met die oogmerk is die instelling van die geesbeker vir die boere met gees ‘n belangrike erkenning van uitnemendheid vir 2024 se Inter Unie. Die geesbeker sal toegeken word aan die spanne wat uitblink in aspekte soos gesonde sportmanskap, die uitdrukking van ‘n unieke spanidentiteit, en die bevordering van entoesiasme voor en na elke aktiwiteit.
Hierdie is kenmerke wat ons verlede jaar reeds gesien het en wat ons glo die fondasie van die OBARO Inter Unie vas vang.
Die wenner van verlede jaar, Ohrigstad Boerevereniging, is terug om hulle titel te verdedig, hul kaptein, Cornu Cross deel graag hoekom hulle hierdie jaar weer met soveel toewyding aanpak:
“Die OBARO Inter Unie was vir ons as Ohrigstad Boerevereniging werklik ‘n hoogtepunt. Jong boere regoor die land was byeen gebring om nuwe bande te smee. Saam met nuwe vriendskappe, is ons ervaring ook dat vriendskappe in ons eie Boerevereniging sterker is.
Die rede waarom ons weer deelneem hierdie jaar is heel eenvoudig: ‘ons wil nie uit mis nie‘. Die Inter Unie was ‘n groot sukses verlede jaar, en ek dink dit gaan net nog groter groei. Buiten die groot prysgeld wat op die spel is, is die ervaring en nuwe ontmoetings iets waarvoor jy nie ‘n prys kan opsit nie.
Dankie aan elke party wat ‘n hand gehad het om die Inter Unie vir ons moontlik te maak. Dankie aan elkeen vir hierdie geleentheid, en aan elke span wat vanjaar gaan deelneem, wens ons sterkte met jul voorbereiding. Ons as die Ohrigstad Boerevereniging sien uit om ou gesigte te sien en nuwe vriende te maak”.
Die OBARO Inter Unie 2024 beloof om ‘n opwindende geleentheid te wees, waarin ons die trots en uitnemendheid van ons landbougemeenskap vier. Ons sien uit na die kompetisie en die voortsetting van hierdie wonderlike tradisie.

